O laat my tog uit na bos en na spruit,
waar storremwind stoei deur my hare,
of gierende fluit met angstig' geluid
deur takke wat dien as sy snare;
waar ek aan die angs van my hart kan ontkom,
my veilig verberg teen die wêreld,
oorweldig deur skoonheid van berg en van blom
deur glansende druppels bepêreld.
Na kloof en na kruin, oor krans en oor duin
waar blomme met onskuld betower,
na vlinders wat sweef en alles wat leef
in grasse, in struike en lower;
waar ek die gewoel van die lewe ontvlug
en ver weg verdwyn van die mense:
geen nare gevare, geen bose gerug!
O blye vervulling van wense!
Written by Woorde: G. MES; gewysig: P. MCLACHLAN Musiek: J.F. TIERIE JR.; verwerk: D. HYMAN





