Rus in die aarde my helde,
wat julle bloed het gewy,
rus in die skoot van die velde,
vir ewig van bande bevry.
So lank as die Heer se genade
jul kinders in vroomheid laat kniel,
sal die roem van jul lyding en dade
'n volk in sy strewe besiel.
Rus waar die stem van die winde
aan julle kom hulde bely,
rus maar my dierbaar beminde,
julle dae van veg is verby.
Die sterwenswee, somber genakend,
het julle nie slapend oorval
soos brandwagte werend en wakend,
soos helde vertroubaar en pal.
Rus in die dierbare gronde,
julle dae van smart is getel,
rus waar die borende wonde
nooit meer julle siele kan kwel.
Julle het deur ontbering en lyding
julle volk tot die dood toe gedien.
God het julle offers van wyding,
julle roemryke sterwe gesien,
roemryke sterwe gesien.
Met vriendelike vergunning van R. Müller, Bpk.
Written by Woorde: DIRK MOSTERT Musiek: S. LE R. MARAIS





