Nog tril ons hart van matelose smarte,
nog groei geen grassie op die heil'ge plek
waar grond en klip hul bleek gebeente dek--
Soet sy jul rus, o liefstes van ons harte.
Nog klink die droewig' weeklaag in ons ore,
die roep om hulp uit honger dood en dwang,
nog hou die angs ons krimpend' hart gevang.
O bange vraag: Is weersien ons beskore?
Hoe wrang die weersin by die wrede lyding,
by die verhaal van onverdiende leed;
hoe sal die nageslagte ooit kan weet
hoe groot die prys, die offer, die kastyding!
Hoe kan ons? Nooit kan ons die swaar vergeet nie,
die kale grafte roep: Onthou, onthou!
Dink aan die lyding van jou kind en vrou.
Geen sterflik' mens sal ooit die smart kan meet nie.
Written by Woorde: BLIKOOR; gewysig: P. MCLACHLAN Musiek: C. MALAN; verwerk: G.G. CILLIÉ


