Jun 10 2009 09:30:03:037AM
Die rooitaal het my weer eens ontgaan en "warthog" en "hedgehog" klink trouens amper dieselfde.
Mari Schmidt
Die 17de Junie 2009 is dit presies tien gelede wat ek uit Suid-Afrika uit gevlieg het. ("Net vir een jaar om bietjie te travel" was my vaste oortuiging.)
Dit is ook die dag wat Allen Donald nie gehardloop het nie.
Daardie aand, saam met al die Pretoriase vriende wat kom koebaai waai het, het ek gekyk hoe Suid-Afrika teen die Aussies gespeel het in die semi-finaal van die krieket-wêreldbeker. Die vliegtuig wou opstyg en ek moes deur die leë, onvriendelike lughawe (hard)loop. Daar was een boulbeurt oor. Suid Afrika het 9 lopies nodig om te wen, 6 balle.
Moenie worrie nie, Klusener is mos nog daar.
Oppad na die vliegtuig toe in die lughawebus weet niemand wat gebeur het nie. Ons almal gons en daar is 'n stille-dog-senutergende geloof dat alles oukei gaan wees. Ek gordel myself in, en oor die lug kom die aankondiging.. "sorry to tell you folks, but South Africa just drew the game with Australia, and we are therefore out of the World Cup".
En toe rol my trane... Hier sit ek op 'n vliegtuig oppad Engeland toe sonder 'n siel wat ek daarso ken, ek mis al klaar my Moreletta Park-kerk-voorgee-groepie, en nou nog die krieket ook.
Wat 'n gemors, en wat se k*k idee was dit in elk geval om Engeland toe te gaan? Sorry Hansie.
Só het my een jaar in Engeland jaar na jaar langer geword, en ek het leer Engels praat. As mens van Bethulie af kom, is Engels baie laag op enige prioriteitslys.
Vol punte vir my engelse kollega's van Crawley wat sin moes maak uit my unieke weergawe van Engels.
Ek onthou een spesifieke dag wat ek vir Gerry, my Skotse kollega, iets probeer verduidelik het. Na die vyf minute lange verduideliking kyk hy vir my, skud sy kop en sy woorde was: "Oh my word, was that English?".
Gedurende een van my baie SA kuiers vlieg 'n tarentaal voor my in naby Wesselsbron en daar waai die huurkar se spieëltjie saam met spikkelvere en ander jukkie ingewande.
Terug in Engeland vertel ek vir Gerry van die episode en hoe ek 'n "flying guinea pig" getref het. (Die "guinea fowl"-woord het my heeltemal ontduik soos met baie ander woorde). Eers sê hy niks nie, maar tien minute later was hy terug by my tafel. (Hy het eers 'n ander Suid- Afrikaner gaan bel om seker te maak dat die varkies in SA nie kan vlieg nie.)
In sy hande was 'n prentjie van 'n "guinea pig" en hy wou weet hoe hierdie marmotjie gevlieg kry.
Op 'n ander geleentheid het ons een aand 'n krimpvarkie gered uit ons agtertuin in Burgess Hill, in 'n handdoek toegedraai en, in die middel van die nag, iewers in 'n boer se land gaan loslaat.
Die volgende oggend vertel ek hoe ons 'n "warthog" in 'n handdoek gesit het en terug na sy familietjie toe gevat het.
Gerry se eerste woorde: "this is another guinea pig story, right?". Die rooitaal het my weer eens ontgaan en "warthog" en "hedgehog" klink trouens amper dieselfde.
Engeland het my geleer hoe om jou eie petrol in te gooi en die olie te tjêk, hoe om geduldig in 'n tou te staan ('n nasionale sport daarso), dat "health and safety" maatreëls nie noodwendig logies hoef te wees nie, en hoe om voor te gee dat dit nie eintlik reën nie.
Die lewe staan stil wanneer dit donder-storm in die Suid-Vrystaat en ek onthou die groot geraas as die water neer-emmer op Springbokfontein se sinkplaatdak. Ek doen nie eintlik reën nie (want dis te nat), en soms, wanneer ons op die South-Downs gaan stap-gly het in die modder, het ek só verlang na die huis se lang geel gras, blou lug en wit wolke.
Ja, die gras is altyd groener aan die ander kant, of sal ek liewers sê "geler"?
So word ek toe in Engelse burger in Hove-actually en beloof trou aan koningin Liesbet met haar wit skoene. Ewe skielik maak die wêreld oop voor hierdie half-boer-half-Brit en dis soos 'n rooi tapyt wat my in elke Europese land in-nooi.
Die travel-gogga het my nog altyd veilig vas in haar kloue vasgehou en nou was daar geen keer aan my nie. Verby was die nagte wat ek in 'n lang tou voor 'n ambassade se deur in Londen geslaap het.
Een keer, by die Hollandse ambassade, nadat ek van 2 uur in die oggend daar gestaan het, het die deur nooit eers oopgemaak daai dag nie. Hoekom? Twee Suid-Afrikaners het 'n geveg gehad in die tou en toe het die ambassade die polisie ontbied and sommer besluit hulle het genoeg gehad voor die dag begin het.
Partykeer kan mens se mede-landsburgers jou steeds die duiwel in maak - ongeag waar in die wêreld jy is.
Ek het geleer van die Britse kultuur en dat diplomaties die wagwoord is - dis 'uit' om dit te sê soos wat dit is.
Dat die Britte baie privaat is, en dat dit nog meer 'uit' is om net by hul huis in te val vir 'n kuier. Bel liewers eers.
Dat Kersfees Engeland in 'n malhuis laat verander en dat mens 5 uur in die oggend jou kalkoen kan gaan koop.
Dat hulle dink 'n "bbq" is om jou pêtties en walg-worsies te verbrand. Dat mens liewers nie hul troeteldiere moet skeef aankyk nie, en dat die lewe kan wentel om pubs met hul warm atmosfeer, lae plafonne, bont-patroon matte, pints en sokker op die TV.
Agt jaar later het ek genoeg koud gekry, Engeland vaarwel geroep, en terug suid getrek - na Sydney in Australië. Ek was oortuig dat Engeland die mees regeerde, beheerde en gekontroleerde land in die wêreld is...
Dis totdat ek my voete hier onder neergesit het. Genoeg rooi (en deesdae groen) tape om die Murray-Darling tien keer oor af te meet.
Nou eers besef ek hoe ek die buitelewe gemis het al die jare in Engeland. Die genot om weer elke aand die alombekende Suiderkruis te kan sien.
Om buite te kan wees enige tyd van die jaar sonder dat jou tone opvries en jou oë traan. Om nie meer die ys van jou kar se voorruit af te hoef skraap nie. Om te kan tent vir meer as net 3 naweke 'n jaar.
Om weer 'n vuur te kan maak sonder dat die bure se wasgoed gerook word aan die ander kant van die klein draadheininkie.
Die son wat die wit waks uit jou skyn. Ek sien weer windpompe. En bowenal, om 'n parkeerplek te kry!
Aan die ander kant is Australië net naby aan Australië, en ek mis die groot opgewondenheid om op Heathrow te sit en al die ander lande voel so binne bereik van my jeukende alie.
Al die oorsese sport gebeur in die middernagtelike ure, en mens sou kon dink dat die Olimpiese Spele 'n fênsie-dênsie swemgala was, gemeet aan wat daar te siene was op die TV.
As ek huis toe bel is een van ons amper vas aan die slaap en die ander een het nou net wakker geword. Maar dan, hoe groot was die lekkerte toe die Protea's hierso kom gat-skop het!
Ek ry weer op paaie wat stof opskop en die gras is geel.
Maar wie weet of dit rerig groener is as Engeland s'n of geler is as Suid-Afrika s'n?
Ek sal nooit weet nie. En tot dan toe bly ek skree vir die Cheetahs.
ns. Ek kon die heruitsaaiing van daardie krieket-katastrofe net een keer kyk en nooit ooit weer nie. Ek huil sommer weer.
http://jv.news24.com/Beeld/My_Storie/0,,3-2053_2528245,00.html


