Ek raak nie normaal weg in Politiek betrokke nie. Maar ek vind die argief verskriklik interesant op oog van wat nou in Suid Afrika gebeur. Wie het voorsig gehad en wie het nie?
FOTO: S/W HET VERSKYN IN LAAT OP BL. 2 (MIN. KOBIE COETZEE) Van Ons Politieke Beriggewer DIE Konserwatiewe Party is van plan om vasberade voort te gaan om blanke weerstand te mobiliseer teen wat hy noem pres. F.W. de Klerk se ``oorgee-stappe'', en enige ``broedertwis en onaangenaamheid'' wat daaruit voortspruit, wyt hy aan pres. De Klerk se ``ondemokratiese optrede''.
Dit blyk uit 'n verklaring wat die KP-leier, dr. Andries Treurnicht, gistermiddag uitgereik het in reaksie op pres. De Klerk se verklaring in die naweek waarin hy onder meer gesê het die voortgesette opsweping van kiesers teen demokratiese kiesersuitsprake en KP-dreigemente van opstand en verset is onverantwoordelik, ondemokraties en landsgevaarlik.
Dr. Treurnicht het gesê die Staatspresident se kritiek is nie net ongegrond nie, maar 'n deursigtige poging om die Nasionale Party se dolle vaart na 'n swart of ANC-regering te probeer wegsteek. MANDAAT ``Die Konserwatiewe Party herbevestig sy standpunt dat die Staatspresident tans geheel en al ondemokraties optree en strydig met die mandaat wat hy op 6 September 1989 ontvang het. ``
Die Staatspresident het geen mandaat gekry om die ANC en kommuniste oor ons land los te laat en nou met hulle te onderhandel nie; om 'n blanke gemeenskapslewe te verwoes; om hom te beywer om 'n swart man president van Suid-Afrika te maak; om die Groepsgebiedewet af te skaf; en om die beginsel te aanvaar om blanke skole vir almal oop te stel waarvoor hy nou beweer hy wel 'n mandaat gekry het.''
Dr. Treurnicht het gesê die Staatspresident se aanspraak dat hy blankes in 'n onverdeelde Suid-Afrika teen oorheersing sal beskerm, is 'n mite en het nêrens op aarde gewerk nie. Daarom herhaal die KP dat pres. De Klerk die blanke aan swart oorheersing en onderdrukking uitlewer. ``Die Konserwatiewe Party gaan vasberade voort om blanke weerstand teen mnr. De Klerk se oorgee-stappe te mobiliseer. Enige broedertwis en onaangenaamheid wat daaruit voortspruit, is die gevolg van die Staatspresident se ondemokratiese optrede teen die vryheid en regte van ons volk,'' het dr. Treurnicht gesê. (* MIN. KOBIE COETZEE)
politieke partye hervorming grondwetlike onderhandelinge organisasies
http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1990/05/29/1/38.html


