'n Uitstekende werk gedoen deur Petrus van Eeden, hoekom Afrikaans en Nedelands saam hoort... http://www.afrikaans.nu/
Vir die besoeker uit Suid-Afrika aan Vlaandere val twee dinge skerp op. Hy verstaan die vreemde taal in die vreemde land so goed as volledig (die taal van die radio en televisie: die standaardtaalspreker) sonder ooit een enkele taalles daarin te gevolg het. Maar daar sit ook 'n skok by. Sommige Vlaminge is onverstaanbaar (die dialekspreker). Vir die gemiddelde Afrikaanssprekende is dit eitlik 'n vreemde situasie. Tydens my studie van vier jaar aan die Vrije Universiteit Brussel in die Nederlandse taal en letterkunde, moes ek die volgende vasstel:
1) Vlaams: Daar bestaan geen Vlaamse kultuurtaal nie, en word "Vlaams" op geen taalskool en op geen universiteit aangebied nie. Die omgangstaal van die Vlaming is een van vele Vlaamse dialekte, maar sy kultuurtaal is Standaardnederlands.
2) Taalafstand: Daar is heelwat Vlaamse dialekte wat veel verder afwyk van Standaardnederlands as wat Afrikaans dit doen. Die algemene opvatting in Suid-Afrika is dat ons omgangstaal (Afrikaans) al so ver van ons kultuurtaal (Nederlands) gaan afwyk het, dat dit nodig was om ons omgangstaal te standaardiseer. As die breedte van die kloof tussen spreek- en skryftaal 'n faktor was, moes hierdie verafwykende Vlaamse dialekte immers eerder kultuurtale geword het as Afrikaans. Die argument dat ons omgangstaal in Suid-Afrika al so ver van Nederlands begin afwyk het (en op grond hiervan gestandaardiseer moes word) is onjuis.
3) Vermenging: In Suid-Afrika aanvaar ons dat Afrikaans ’n vermengde taal is. Dit is eweneens onjuis. Wanneer jy 'n Afrikaanse boek op 'n onbepaalde plek open en begin lees, moet jy baie ver lees voordat jy op 'n nie-Nederlandse woord afkom (uitgesonderd die woordjie baie). Die Afrikaanse leksikon is vir seker goed 95% Nederlands, en dit maak nie van Afrikaans 'n vermengde taal nie.
4) Ander taalbewegings: Nie alleen wou die Vlaminge van Nederlands op Vlaams oorstap nie, maar het ons ook ander bewegings gesien wat eie kultuurtale voorgestaan het, naamlik: in Amerika, Brasilië, Quebek en Noorweë (die taalbeweging in Noorweë was wel suksesvol, maar is tans besig om te misluk). Behalwe vir die Afrikaanse beweging (en Nynorsk), het al die ander bewegings misluk. Waarom?
5) Kultuurtaal versus dialek: Vanaf 1652 het die Afrikaner 'n harmonieuse taalverhouding geken tussen sy omgangstaal (Afrikaans) en sy kultuurtaal (Nederlands) - waar ons vandag nog sodanige verhouding ken in Nederland, Vlaandere en Suriname. Die Afrikaanse beweging het aan ons voorgehou dat dit abnormaal is om een taal (kultuurtaal) te skryf en ’n ander (dialek) te praat. Waarom was dit by ons abnormaal (geword), terwyl dit tot en met vandag in Vlaandere, Nederland en Suriname nie abnormaal is nie en waarom dan 1925 en nie 1700 of 1800 nie? Sien ook diglossie en standaardtaal-dialekverhouding.
6) Wie wou afstap van Nederlands: In die vorige eeue was in Suid-Afrika vele Nederlandse dialekte gepraat, vandag bekend as: Oosgrens Afrikaans, Oranjerivier Afrikaans, Kaapse Afrikaans en Griekwa Afrikaans (laasgenoemde uitgestorwe). Alleen die Oosgrensafrikaner wou gaan ''skryf soos hy praat''. 'n Groot groep, naamlik Kaapse Afrikaners stel tot en met vandag nie daarin belang om te ''skryf soos jy praat'' nie - dus af te stap op 'n eie kultuurtaal met 'n eie spelling en grammatika.
7) Grondwet: Die grondwet van Suid-Afrika van 1910 bepaal dat SA twee amptelike tale had: Nederlands en Engels. Gedurende 1925 word Afrikaans gelykgestel (let wel gelykgestel) met Nederlands, teruggedateerd tot en met 1910 (waarom die terugdatering?). Die grondwet het geloop tot 1961. Toe kry ons ’n nuwe. Hierin was Afrikaans en Engels die amptelike tale, maar in ‘n subklousule was vermeld dat by Afrikaans ook Nederlands bedoel was. Het Suid-Afrika tussen 1910 en 1984 twee of drie amptelike tale gehad? Twéé, want Afrikaans en Nederlands was as sinonieme beskou - dieselfde taal. Hierdie sinonimiteit bestaan vandag nie. Waarom nie en wat het dan intussen verander?
8) Spelling: Waarom is daar van die Nederlandse spelling afgestap? Vele woorde soos: universitaire, provincie, produktie, nationaal, jij, duivel, zwart, ensovoorts, word in Afrikaans nie anders uitgespreek as in Nederlands nie. Nietemin het ons die spelling gaan wysig. Waarom?
9) Die voorstanders van Afrikaans (as ons kultuurtaal) het laat hoor dat bitter weinig Afrikaners 'n eeu gelede Nederlands as omgangstaal gebruik het nie. Maar in Nederland het teen 1930 maar 3% van die bevolking Standaardnederlands as omgangstaal gebruik. In Vlaandere het die Vlaminge teen 1960 nog nie die 3% peil gehaal nie (sommige wetenskappers meen dat dit maar 1% was). Uit ondersoek blyk dat nog nie 20% van die Vlaminge vandag Standaardnederlands as omgangstaal gebruik nie. Die Afrikaner was wat sy taalgebruik betref, geen uitsondering op Nederland en veral Vlaandere nie.
10) Geografiese afstand: Aan die Afrikaner is voorgehou dat Nederlands nie meer as taalmodel kon dien nie omdat Nederland en Vlaandere te ver weg sit. En Londen en haar dogters dan? Tussen Brittanje en haar ander erfgename sit ook heelwat kilometers, en tussen Portugal en Brasilië, en tussen Frankryk en Quebek, en tussen Spanje en Latyns-Amerika, en tussen Nederland en Suriname gaap dieselfde duisende kilometers.
11) Taalmodel: Sommige voorstanders van Nederlands in Suid-Afrika het laat weet dat ons selfs sonder moeite Nederlands ook as ons omgangstaal sou kon gebruik. In Vlaandere is dit opmerklik dat die ouer generasie die moeilikste verstaan word. Hulle omgangstaal staan die verste van Standaardnederlands weg. Middeljariges is makliker verstaanbaar, maar die jeug gebruik 'n klokheldere verstaanbare taal. Per geslag word dialekgoed laat val ten gunste van Standaardnederlands (sommige wetenskappers meen tot 20% dialekgoed per geslag). Per geslag word daar oorgestap op Standaardnederlands. Hierdie model laat sien dat die voorstanders van Nederlands in Suid-Afrika gelyk gehad het.
Waar kom Afrikaans vandaan?
Die herkoms van die Afrikaanse omgangstaal: Aan die Kaap het nuwe omgangstale verrys soos oral ter wêreld gebeur het. Uiteraard het taalkontak 'n rol gaan speel asook isolasie (afstand tussen die Kaap en Nederland), maar nog twee aspekte het ook 'n rol gespeel: Nederlandse dialeksprekers het na die Kaap verhuis en geen standaardtaalsprekers nie. Daar moes 'n proses van gelykmaking tussen die dialekte gaan afspeel het - behoud van taalgoed wat ook in ander dialekte voorkom en weglating van dit wat in die ander dialekte ongebruiklik was. Ten tweede was daar ook 'n proses van taalvereenvoudiging. Afrikaans is immers gewoon vereenvoudigde Nederlands. Hierdie proses is en was nie uniek aan Suid-Afrika en Afrikaans nie. Taalvereenvoudiging kom voor by laaggeskoolde en ekonomies agtergestelde groepe, hetsy in die slopwyke van stede, hetsy op die uitgetrekte platteland. Die taalkode van hierdie groepe is altyd armer en eenvoudiger as die van die stedelike elite. In hierdie teelaarde aan die Kaap, het nuwe Nederlandse (Afrikaanse) omgangstale verrys. 'n Nuwe omgangstaal hoef nie te lei tot 'n nuwe kultuurtaal nie.
Die herkoms van die Afrikaanse kultuurtaal: Die skepping van die Afrikaanse kultuurtaal het aktiewe maakwerk vereis. Hierdie kultuurvariëteit is vir 'n groot stuk op despotiese wyse rondom 'n tafel gemaak. Wat alles uit Nederlands gehaal moes word en onder Afrikaans staangemaak moes word, het tot vurige diskussies gelei, waar die taalmakers hulle weinig aan gesteur het. Alleen oor die imperfektum het daar twintig lange jare van diskussie gegaan, voordat dit met 'n pennestreep uit Afrikaans geskep was (vandag die enigste Germaanse taal daarsonder).
Waarom het ons Afrikaans as nuwe kultuurtaal gaan invoer?
Daar was ook ander volke wat gaan poog het met eie tale, naamlik: Amerikaners, Vlaminge, Brasiliane, Quebekkers en Noorweërs. Wanneer 'n mens hierdie pogings naloop, vind 'n mens ook dieselfde taalargumente as wat in Suid-Afrika aangevoer was. Ook onder hierdie volkere was daar mense wat wou gaan ''skryf soos hulle praat''. Hulle begeerte het uitgegaan na 'n eie ''inheemse'' kultuurtaal.
Die belangrikste rede waarom ons vandag met ’n taal sit wat ons Afrikaans noem, lê in ons bevolkingsamestelling in Suid-Afrika. In breë kan die ondersteuners van 'n eie nuwe taal (oral ter wêreld) aan die volgende gekenmerk word: die groep is nasionalisties gemobiliseerd, laag geskoold of ongeskoold, plattelanders, arm, emosionele denkers en voorts is die groep ook geïnteresseerd in taal as simbool. Die ander pool (behoud van gevestigde kultuurtaal) is nie so seer nasionalisties gemobiliseerd nie, geskoold of hoog geskoold, vorm die elite, is stedelinge, ekonomies welvarend, rasionele denkers en voorts geïnteresseerd in taal as instrument.
Die verre meerderheid van ons Afrikaners was tot vroeg dié eeu nog arm (dink aan die armblanke vraagstuk), laag geskoold (my volk gaan ten onder weens 'n gebrek aan kennis - Paul Kruger), plattelanders en sterk nasionalisties gemobiliseerd. Die teenpool wat voorstaanders was van die behoud van Nederlands, was getalsgewys te klein om die ander pool in bedwang te kon hou. In al die ander lande waar soortgelyke taalbewegings was, was die 'geskoolde pool' sterk genoeg om die 'ongeskoolde pool' teë te hou. Dit is om die rede dat die ander taalbewegings misluk het en die van ons geluk het.
Die gevolge van die oorstap op 'n nuwe kultuurtaal
Die afstap van Nederlands op Afrikaans as ons kultuurtaal, het ons meer verdriet gebring as heil.
In die Nederlandse taalgebied word tans ongeveer 20,000 boektitels per jaar op die mark gebring. In Afrikaans sowat 3,500. 'n Vlaamse of Nederlandse biblioteek of boekwinkel staan vol Nederlandstalige werke, met op 'n rakkie boeke in ander tale. Dit is die geval in Suid-Afrika nie, inteendeel. Het ons by Nederlands as kultuurtaal gehou was alle Nederlandstalige boeke ook in Suid-Afrika vir die Afrikaner beskikbaar en vice versa.
Afrikaans het stigmataal geword. Apartheidstaal. Het ons by Nederlands as kultuurtaal gehou was die stigmatisering nie moontlik nie, want dan was ons taal ’n internasionale taal, soos wat dit tot en met 1925 was. Die amptelike taal van Namibië sou Nederlands gewees het en nie Engels nie (Afrikaans is daar die lingua franca en Afrikaans = Nederlands).
Van die 4,000 Nederlandstalige tydskrifte sou daar ook op ons winkelrakke gepryk het, waar Engels nou heers. Dan was trouens alle Nederlandstalige kultuurprodukte uit die hele Nederlandse taalgebied (Zuid-Afrika, Vlaanderen, Nederland en Suriname) gemeengoed, soos tans vir Engels in die Engelstalige lande.
In Vlaandere word weekliks ’n Nederlandstalige ‘top tien’ musiekprogram op TV en radio aangebied. In Suid-Afrika is dit met die skrapse aanbod van Afrikaanstalige musiek gewoon onmoontlik, maar sou moontlik gewees het indien ons by Nederlands as kultuurtaal gehou het.
Dan het ek dit ook oor video’s, rekenaarprogramme, rekenaarspelletjies, tv-programme, films, ens., wat ek in Nederlands ken, maar soms ver daarna moet soek in Afrikaans. Het ons by Nederlands as kultuurtaal gehou was dié produkte in my moedertaal wel vir my as Afrikaner beskikbaar en vice versa.
Tot en met 1925 was Nederlands so deel van die Afrikaner soos pap en boerewors. Die taal was koesterend aan die hart gedruk. Ons het die Groot Trek aangepak met Nederlands as kultuurtaal en Afrikaans as omgangstaal en so ook die Anglo-Boereoorlog. Ons het trouens die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog aangepak om ons taal en kultuur te beskerm en te verdedig teen die Engelse taal en kultuur. Hierdie taal wat ons so kragdadig wou beskerm het, was Nederlands. Hy was van ons. Hy was eiegoed. Vandag is dieselfde taal andermansgoed. Engels, die taal waarteen ons ten stryde getrek het, is vandag kwasi-eiegoed.
Ons taalskeiding met Nederlands het vir ons geen verryking ingehou nie en is 'n tragiese gebeurtenis in ons taalgeskiedenis.
Ondersoek Afrikaans en sy wortels





