Ek lees nou die dag 'n storie van dubbele genade in aksie. Hier is my
weergawe daarvan.
Die storie speel af in 'n landelike gebied waar 'n gesin op 'n plaas
woon. Die hele gebied loop erg deur onder 'n uitmergelende droogte. Sake
word vererger deur 'n hittegolf wat hom in die gebied kom staan-maak
het, wat lewe in die gebied amper ondraaglik maak. Op die lande staan
die gesaaides inmekaar gedraai van die hitte, die melkbeeste strompel
moeg-moeg oor die dorre grasveld heen. Melkproduksie het feitelik tot
stilstand gekom en die suipings is byna opgedroog. Die bietjie wild wat
nog op die plaas voorkom kry ook bitter swaar en skuil bedags onder bome
om van die ergste hitte weg te kom.
By die plaasopstal het 'n klein seuntjie 'n buitekraan oopgedraai
om homself met die koel water uit die tuinslang af te koel. Toe sy pa
dit sien, is hy ligweg berispe en is daar aan hom verduidelik dat die
watervoorraad op die plaas feitelik gedaan is en dat hulle onder geen
omstandighede water mag mors nie. As dit nie nou binnekort reën nie, is
dit verby met hulle, die diere én die gesaaides.
'n Dag of wat later staan die ma in die kombuis, besig om
skottelgoed te was. Sweetdruppeltjies pêrel op haar bo-lip en kort-kort
moet sy die sweet wat langs haar slape koers kry, afvee. Sy tuur deur
die venster en in die verte sien sy haar klein seuntjie aan die rand van
'n digte bos, waar hy in die bos in trapsuutjie. 'n Frons keep tussen
haar oë. Voor sy nog verder daaroor kan wonder, kom die seuntjie uit die
bos gedraf, huppelend op pad huis toe. Sy sien hom om die hoek van die
huis verdwyn en sy gaan weer rustig aan met haar skottelgoedjies. Nie
lank nie of sy sien hom weer in die verte oppad bos toe. Hy stap stadig
en versigtig in die rigting van die bos, met sy handjies vreemd bakhand
voor hom uitgehou.
Sy kan die kind se eienaardige optrede nie verstaan nie. Sy maak
haar voorskoot los en glip by die agterdeur uit - oppad bos toe. Toe sy
by die rand van die digte bos bome kom, hoor sy haar seuntjie tussen die
bome aankom en sy kruip stilweg agter 'n paar bome weg. Hy draf by haar
verby - weer oppad huistoe. Sy kan sien sy gesiggie is rooi gebrand en
sy voorkop nat van die sweet. Tog, uit sy oë straal 'n vreemde gloed van
genoegdoening. Sy bly in die bos skuil om te sien of hy gaan terugkom.
Sy wil graag vasstel waarmee hy so intens doenig is. 'n Rukkie later kom
hy skuifelend met bakhandjies in die bos in, sy oë gefokus op sy hande.
Hy merk haar nie op die. Hy verdwyn tussen die ruie bome deur. Dadelik
volg sy hom gebukkend, versigtig om nie haar teenwoordigheid te verklap
nie.
'n Paar tree verder kom sy tot stilstand. Wat sy sien slaan haar
stom. Sy kan haar hart hoor hammerslag in haar borskas en in haar ore 'n
suising. Sy kan nie glo wat sy sien nie. In 'n natuurlike opening in die
bos, staan 'n reuse blouwildebeesbul kop-omlaag en 'n entjie verder
kring 'n paar wildebeeskoeie, koppe na binne. Haar seun skuifel steeds
bakhand, sonder enige vrees nader aan die kring koeie wat 'n natuurlike
pad vir hom oopmaak.
Sy wil gil van angs - hierdie diere het die vermoeë om hom in 'n
oogwink te vermorsel - veral die bul. Tog is dit asof 'n stem haar
weerhou om te gil. Haar lyf is lam, haar keel droog. Sy sien hoe die
koeie effens padgee om die kring oop te maak. In die middel van die
kring sien sy 'n jong wildebeeskalfie wat op die grond lê. Die
versengende hitte het sy tol geëis en die kalfie lê verswak op die
grond. Sy sien haar seuntjie naderloop en uit sy bakhandjies laat hy die
laaste oorblywende druppels water in die kalfie se bek drup. Die bul en
koeie laat hom begaan. Dan besef sy meteens dat hy die hele tyd probeer
om met sy handjies water aan te dra vir die uitgeputte kalfie. Sy sien
hoe hy opstaan en met mening weer die pad huistoe vat. Sy staan op
vanwaar sy hom uit haar skuiling dopgehou het toe
hy slegs 'n paar tree
voor haar is.
Hy skrik hom boeglam toe hy haar sien. Die eerste gedagte waaraan
hy op daardie oomblik dink is sy pa se strenge vermaning dat hulle onder
geen omstandighede water mag vermors nie. Nog voor hy kan verduidelik
neem sy ma hom aan die hand en sê "Kom ek help". Net dit. Terug by die
huis haal sy 'n klein emmertjie uit, tap dit vol water en kies saam met
haar seun die pad bos toe. Toe sy by die plek kom vanwaar sy hom 'n
rukkie vantevore uit haar skuilplek dopgehou het, gaan sy staan. Sy gee
vir hom die emmertjie water en beduie vir hom woordeloos om na die
kalfie te gaan. Hierdie is amper 'n heilige oomblik vir haar. Hier bly
sy uit, dis SY oomblik hierdie. Wéér maak die koeie die kring oop en
sien sy hom kniel by die kalfie wat homself stadig oplig en op sy
wankelrige bene kom. Die kalfie begin suip.
Sy voel lou-warm trane in haar oë opwel en onbeskaamd langs haar
wang afloop. Voor haar sien sy die mooiste daad van liefde en genade
ontvou. Dis liefde en genade in aksie - 'n eerste genade.
Dis asof tyd gaan stilstaan het. Hoe lank sy so gestaan en kyk
het na die toneel wat voor haar afspeel, weet sy nie. Dit kon 'n paar
minute wees of dit kon 'n ewigheid wees. Sy word tot die werlikheid
teruggeroep met 'n klomp dinge wat ter gelyketyd gebeur. Haar eerste
gewaarwording is dat die son agter wolke in verdwyn. Waar dit vandaan
kom, kan sy nie begryp nie. Terselfde tyd staan haar seuntjie vanuit sy
knielhouding af op en draai om na haar. Sy gesiggie is die ene vreugde
wanneer hy die leë emmertjie optel en stadig na haar toe stap. Dan hoor
sy die dreuning van die weer en die blare begin ritsel as die wind deur
die blare begin speel.
Trane van dankbaarheid vloei vryelik oor haar wange. Sy neem haar
seuntjie se hand in hare en draai woordeloos om, oppad terug huistoe.
Voor hulle die huis haal, plons vet druppels water uit die hemel neer -
'n tweede genade. Dis so asof die Vader sy seën wil uitstort omdat 'n
klein seuntjie kom stilstaan het by nood.
Om my en jou beweeg daar daagliks sovéél mense wat dors het -
dors het vir 'n bietjie begrip, aandag en ontferming. Mense wat seer in
hulle ronddra. As ons tog net partykeer met 'n tikkie meer deernis die
dag tegemoed wil gaan, om soms net by 'n kollega, 'n vriend of vriendin,
selfs jou huweliksmaat of kind kan gaan stilstaan en luister wat hulle
regtig vir jou sê (nog beter - dit wat hulle nie sê nie). Dis dán
wanneer ons genadewater begin uitdeel. Ons kan nie altyd in die
behoeftes van ander voorsien nie, maar ons kan met 'n bietjie tyd wat
ons kan afknyp, 'n oor wat hoor en 'n paar sagte woorde, 'n groot
verskil daar buite maak. Mag ons voetspore hierdie week getuig van
stilstaanplekke by dié wat ons paaie mee kruis. Mag dit getuig van
deernis, liefde en begrip.


